Wie (wat) is Hendrik?


Wie

My naam is Henry Flint, ja, 'n afrikaanse engelsman. Ons praat hier mos die taal van ons ma's. My oupa Flint het met 'n juffrou Bosman getrou en my pa en sy broers het dus almal Afrikaans gepraat en hulself as Afrikaners beskou. Dit is verder versterk toe my pa met 'n juffrou Botha trou. Omdat ek die oudste was het ek die engelse name van my Flint-oupa gekry terwyl my broer die afrikaanse Botha name gekry het. My pa was die derde seun en het sy pa se name gehad, dieselfde as myne.

Nou waar kom Hendrik dan vandaan?, sal jy vra. Toe ek begin werk het was die engelse naam so effens onnatuurlik vir my afrikaanse kollegas en het dit gou Hendrik geword. Party het nog steeds 'n probleem met die spelling en skryf dit gewoonlik op die Franse manier, Henri, of Hendrie of selfs Hendry. Hulle wil maar net 'n "d" daarin hê.

Ek is in Standerton gebore maar het in die Groblersdal distrik groot geword. Ons het soontoe getrek toe ek omtrent vyf jaar oud was. Van Standerton kan ek niks onthou nie. My pa was 'n boer en na sy dood het my broer op die plaas gaan boer.

Sarie, my vrou, was 'n Benadé. Sy is in Potgietersrus gebore en het daar grootgeword. In haar voorgeslagte is daar Lourense en Smitte. Haar pa is dood toe sy nog klein was en haar ma het haar en haar twee jonger susters groot gesukkel op 'n pensioen. Sy het ook 'n ouer suster, so 15 jaar ouer as sy. Sy het in Pretoria kom werk en toe haar jonger suster saam met my ma gewerk het, het ek haar ontmoet en begin kuier. In 1974 is ons getroud.

Ons het drie seuns. Die oudste het my pa se name maar ons noem hom op sy derde naam, Lane. Hy is in 1977 gebore. Die volgende een, Karel, is in 1979 gebore en het sy oupa-Benadé se name. Die derde, Johan, is 'n laatlam wat in 1986 gebore is. Hy is na sy oom, my broer, vernoem omdat dié net dogters het.

Lane kon nog nie 'n vaste werk kry nie, doen los werke van tyd tot tyd. Karel het pas matriek geskryf en hy gaan volgende jaar Technicon toe vir 'n kursus in verhoogbestuur. Hy doen nou kelner werk by 'n restaurant om geld bymekaar te maak. Johan is nog op laerskool waar almal dink ek is sy oupa.


Waar

Ons bly in Mayville, Pretoria, so'n halwe blok van die Eugene Marais Hospitaal. Bly nou hier so 12 jaar lank. Voor in die straat is groot Eike bome wat in die somer koelte oor die huis maak en in die winter die son lekker deurlaat. Voor dit het ons in Roseville, nie vêr van hier nie, gebly.


Na my begin blaai.

Laas begewerk op 12 Desember 1997